Dalk is dit die perlemoen wat ons moet red!

 

Perlemoenstropers! Dit is ’n woord wat met goeie reg in die afgelope tyd sterk emosies opgewek het. Die aktiwiteite van die perlemoenstropers laat mens met ’n soort magtelose ontsteltenis. Selfs woede. "Righteous anger" sou ’n mens kon sê. Maar wat is dit presies wat ons so ontstel? Dit is dalk nodig om hierdie vraag so eerlik as moontlik te probeer beantwoord.

In die eerste plek kan ’n mens natuurlik bekommerd wees oor die moontlikheid dat perlemoen aan die Kaap heeltemal uitgewis kan word. Maar dit geld ook van talle ander visspesies wat bedreig word deur die volgehoue oorbenutting van ons visbronne. Dit is welbekend, maar maak nie dieselfde emosies wakker nie. Trouens, watter visserman sal nie bly wees om ’n hele paar galjoene uit te trek nie? Dalk is ons so ontsteld oor die perlemoenstropery omdat ons self nog ’n paar perloemene wou gaan uithaal het en vrees dat daar nie genoeg vir ons sal oorbly nie! Ekonome is dalk bekommerd oor ’n bron van buitelandse inkomste wat bedreig word. Maar ook dit kan kwalik soveel emosies gaande maak.

’n Hele paar ander faktore speel waarskynlik ’n rol: die feit dat die perlemoenstropery binne sig van die land af plaasvind; die eksotiese aard van perlemoen as dis, die blatantheid daarvan om perlemoen so helder oordag te stroop; die feit dat dit boonop in ’n natuurreservaat plaasvind; die wyse waarop arm of werklose mense deur ryk sindikate ingespan word vir hulle vuil werk; die vermeende betrokkenheid van polisie-personeel in die stropers se netwerke; die onvermoë van die plaaslike owerhede om die probleem met wortel en tak uit te roei, noem maar op.

Dit is egter ’n vraag of ons hiermee by die kern van die probleem uitgekom het. Miskien kan die volgende storie ons help om nader aan die waarheid te kom.

In sy boek Nature reborn vertel Paul Santmire, ’n bekende Lutherse pastor, die volgende verhaal oor die Puget Sound, die area rondom Seattle en Vancouver:  Teen die einde van die 1990's het die owerhede daar begin besef wat natuurbewaarders en die breë publiek lankal vermoed het: die salm wat in daardie area voorkom was op die randjie van uitwissing. Die goewerneur van Washington se woorde was: "Life without salmon is unthinkable, but today, the unthinkable is in danger of coming true." Die publiek het hierop begin reageer deur te begin met 'n veldtog om die salm te red. Talle organisasies, besighede, owerhede en kerklike groepe het hierby betrokke geraak. Dit het egter spoedig geblyk dat dramatiese veranderings aan die lewenstyl van die 3 miljoen mense wat in die area woon nodig sou wees. Boere (63% van die grond in die area word privaat besit), houtprodusente, huiseienaars, gholfklubs, padkonstruksie maatskappye, kragsentrales en talle ander maatskappye sal ’n rol moet speel om seker te maak dat die seewater, die natuurlike habitat van die salm, skoon genoeg en koel genoeg sou wees sodat die salm opnuut sal kan floreer. Die salm sal alleen gered kan word indien daar ’n ingrypende verandering paasvind in die ekonomiese aktiwiteite van die area. Natuurlike hulpbronne sal nie langer vir eie gewin uitgebuit kan word nie. Die probleem lê egter dieper. Dit raak die verbruikersmentaliteit van die 3 miljoen mense in die area wat ’n aanvraag skep vir talle produkte wat nie noodwendig  in die salm se belang is nie. Dit het die burgemeester van Seattle by die volgende insig gebring: "Ironically, as we work to save the salmon, it may turn out that the salmon may save us."

Na aanleiding van hierdie storie sou ons kon vra: Wat kan ons doen om die perlemoen te red? Of is dit dalk die perlemoen wat ons kan red? Dit is net moontlik as ons die wortel van de probleem aanspreek. En dan sal ons soos die mense van Seattle en omgewing moet raaksien dat perlemoenstropery ’n simptoom is van die wydverspreide uitbuiting van die omgewing waaraan ons almal aandadig is.

In talle sosiale analises word die dominante kultuur van ons dag as een van "consumerism" beskryf. Ons is almal vasgevang in ’n verbruikerskultuur. Ons honger naarstigtelik na geld, besittings, mag, status, pret en plesier. Ons soek onmiddellike bevrediging, geluk en plesier, want môre mag dit dalk te laat wees. Ons gaan soos ’n spons deur die lewe op soek na opwindende ervarings, seksuele avonture, vinnige motors, luukse huise, eksotiese vakansies, kragtige rekenaars, klere met die regte etikette, selfone, ryk kosse (perlemoen!), ensovoorts. Die hartseer van die saak is dat die armes onder ons ook in die web van ’n verbruikerskultuur vasgevang is. Die bekende Richard Foster skryf tereg oor die mens se begeerte na geld: "Those who have it the least, love it the most." Mense plaas hulle hoop en verwagting in die lewe op die kompetisies wat hulle dalk kan wen. Of op die lotto en die casino. Die tragiese is dat hulle so hoop op dit wat hulle die minste kans het om te kan verwesenlik.

Ons is so vasgevang in ’n verbruikerskultuur dat ons nie raaksien watter gevolge ons manier van lewe op die omgewing rondom ons het nie. Ons besef nie dat die elektrisiteit waarvan ons so afhanklik is, lei tot lugbesoedeling en aardverhitting nie. Ons besef nie dat die olie wat ons nodig het vir brandstof dieselfde gevolge het en dat oliebronne voor die einde van die eeu opgebruik sal wees. Al wat ons kan doen is om te kla oor die prys van brandstof. Hieroor kan ’n mens nog baie praat en redeneer.

Die punt is nietemin duidelik. Ons sal nie die perlemoen kan red bloot deur vir die perlemoenstropers kwaad te raak nie. Asof dit net hulle is wat skuldig is terwyl onsself onskuldig is. Perlemoenstropery is deel van ’n groter stropery waarby ons almal betrokke is. As ons vra, "Wie is die eintlike skuldiges in die onwettige perlemoenhandel" mag ’n eietydse profeet Natan dalk vir ons ’n onaangename verassing gereed hê. Dieselfde Paul Santmire skryf dat die Kersgety dalk die punt is waarby ons moet begin (as ons regtig die perlemoen wil red). Die Kersgety is immers berug as die simboliese kern van ’n versbruikerskultuur. Santmire se vraag is ook aan ons adres gerig: "Can that festival, which celebrates the Prince of Peace born in a stable, become something more for the general populus than an orgy of consumerism?"

 

Prof Ernst M Conradie

Departement Godsdiens en Teologie, Universiteit van Wes-Kaapland