Ons Christelike omgewings verantwoordelikheid.

Motivering vir ‘n plaaslik inheemse kerktuin

 Karen Marais

Ons is opgewonde oor die moontlikheid om ‘n deel van die kerktuin te omskep in ‘n plaaslik inheemse tuin.  Prakties is dit iets wat aanvanklik heelwat beplanning sal verg, maar daar bestaan gelukkig heelwat kundigheid in die omgewing en die dieperliggende motivering, maak dit die moeite werd.

As Christene word ons lewens volgens twee groot lewensbeginsels gerig.

1)       Jy moet die skepper God liefhê.

Om waarlik liefde vir God te openbaar sluit in om sy skepping te bewonder, te respekteer , te gebruik as inspirasie en om ander mense na Hom te lei.  In die Wes-Kaap is ons in die bevoorregte posisie om midde in een van die wereld se botaniese wonders te leef.  Die fynbos-renosterveld bioom is een van onvergelykbare biologiese diversiteit en ‘n ware wêrelderfenisgebied.  So dikwels word die prag van God se unieke skepping onnadenkend vernietig.  In die proses word iets van ons ontsag vir die skepper God ingeboet.  Ons glo die Christelike kerk moet die wonder van  God se skepping gebruik om Sy grootheid te prys.  ‘n Inheemse tuin kan ook dien as getuienis aanknopingspunt, om met mense te gesels oor die skepper God wat ons aanbid.

 ‘n Klein inheemse kerktuintjie is in die verband ‘n belangrike begin en illustreer die beginsel.

2)       Jy moet jou medemens liefhê.

Nog nooit was ons planeet so bedreig deur die vernietigende invloed van een spesie soos deur die moderne mens nie.  In ons vernietigingsdrang word nie alleen God se pragtige natuurskepping bedreig nie, maar ook die gesondheid en welsyn van ons mede- wêreldburgers.

Om met nederigheid en respek die natuur te hanteer illustreer nie net ons liefde vir God nie, maar ook ons  liefde teenoor ons medemens.   Ons het ‘n verantwoordelikheid as God aangestelde rentmeesters van ons planeet, om die nageslagte wat dit van ons gaan erf  te konsidereer.   Hulle wil ook nog die prag van Sy skepping ervaar en daaruit inspirasie put.

‘n Plaaslik inheemse kerktuin is maar bloot ‘n illustrasie dat ons die spesifieke omgewing raaksien waarin ons woon,  dat ons dit respekteer, dit bewonder en wil bewaar vir die nageslag.  ‘n Tuin vol uitheemse indringer plante illustreer presies die teenoorgestelde.

Ons het reeds die hulp plaaslike kundiges ingeroep.

Prof. Niel Du Plessis

Dr. Christie Kloppers

Beide dien op plaaslike Tygerberg bewaringsliggame (oa by die Christo Pienaar natuurtuin) en sal ons graag van raad en hulp bedien.  Dit sal goeie beplanning verg om werklik die doel te bereik, omdat dit nie vir ons daaroor gaan om net ‘n tuin met mooi blommetjies te he nie.  Dit sou bloot grimering wees.  Ons beplan om ‘n tuin met baie varieteit aan te plant, wat ‘n tuiste vir inheemse voëls, skoenlappers en ander goggatjies kan wees EN sodoende God se skepping in ons spesifieke area weerspieël.  So ‘n gevestigde inheemse tuin verg baie min onderhoud, gebruik min water en ook geen gifstowwe benodig nie.

Ons onderneem om die toegekende stukkie op eie onkoste aan te plant en te onderhou. Dit sal dus vir die kerk geen uitgawe wees nie.  In die lang termyn sal dit iets wees waarby almal baat vind en veral ‘n geleenteid om die kinders oor God se skepping op te voed.  Ons sal in gedagte hou om nie groot bosse/struike te plant wat skuiling kan bied en ‘n veiligheids risiko is nie.  Soos genoem sal dit vir ons ‘n wonderlike geleentheid wees om ons entoesiasme oor God se skeppingswonder ten toon te stel.  Indien u enige verdere inligting verlang sal ons dit graag verskaf.  Op die oomblik is alles nog in die beplanningsfase en wag ons eers vir die groen lig om voort te gaan.