NG-gemeente Groblersdal

Ds Jannie van Eeden (NG-gemeente Groblersdal) berig dat dié gemeente met talle inisiatiewe rondom natuurbewaring vorendag gekom het. Hy vertel:

1.       Seker so ongeveer 5 jr gelede het ons begin met  4x4 uitstappies vanuit ons gemeente sowel as die Ereveldwagters van die destydse Nasionale Parkeraad as geldinsamelingspogings. In samewerking met Loskopnatuurreservaat, Maleoskop Polisie opleidingsentrum se natuurbewaringsafdeling het die plaaslike NG Gemeente ‘n skoustalletjie behartig met die doel om natuurbewaring te bevorder en sodoende die  publiek meer bewus te maak van die omgewing. Daardeur wil ons graag mense bewus maak dat God alles gemaak het met ‘n doel en dit onderhou. Die interafhanklikheid van alles, ook die mens daarby betrokke en nie daar teenoor nie. Ons uitgangspunt is Art 2 vd Ned Geloofsbelydenis. Ons leer God ook ken uit die Skepping. Die stalletjie het in sy kategorie die eerste prys gewen. Items wat ons uitgestal het was oa. lewendige slange, krokodille, opgestopte diere, plakate, skedels, geraamtes, inligting oor indringerplante, boeke oor die natuur, plakate, plante. Videos en skyfies is vertoon en die stalletjie was deurlopend beman deur veldwagters. Dit was een van die stalletjies wat die meeste besoek was. Ons meen dat hier alreeds ‘n redelike mate van bewustheid gekweek is. Loskop Natuurreservaat beslaan sowat 25,000 hektaar en het ‘n goeie deel van hoë- middel- en laeveld of dan bosveld en is geleë in die Loskopvallei sowat 40  km vanaf Middelburg.

 2.       Hiervanuit het die Avontuurgroep van die NG Kerk Groblersdal toe ontstaan op grond van 'n behoefte om die omgewing beter te leer ken. Ons het met ‘n aandbosbraai in Loskop Natuurreservaat en ‘n nagrit begin. Verskeie vergaderings het dit voorafgegaan. Daar is bv gedink aan uitstappies vir gestremdes, ’n avontuurnaweek op 'n plaas met bv fietsry, stap, draf ens. op roetes op die plaas wat grootliks nog ongerep is. Hierop het veskeie ander dinge gevolg. Ek noem ‘n paar:

o        Staptoere

o        4x4 uitstappie vir pa’s en seuns. (Die volgende een is vir gesinne. Dit neem die vorm aan van 'n “rou” toer. Die groep neem toerusting saam sodat hulle op enige ongerepte plek kan slaap sonder enige geriewe.)

o        Gereelde gesinskampe in die Wolkberge (Baie afgesonderd. Toegeruste hutte sonder krag in ‘n natuurreservaat waar ver gestap kan word. Die omgewing is iets besonders met skoenlapperspesies wat nog nie opgeteken is nie.) By die meeste geleenthede maak ek van die tema “Rus” gebruik soos in om tuis te bring die ritme wat God ingestel het en wat ons nodig het. Dit word op informele en spontane manier gedoen. Ek vra byvoorbeeld dat elkeen 'n artikel moet saambring uit die natuur en vra na die doel daarvan in die skepping en lok so gesprek uit. By geleentheid het ek die Ringsbroeders oor dieselfde saak beetgehad. Interessant dat die opmerking gekom het dat ons die skepping moet onderwerp en “tem”. Baie dinge in die skepping word as vyandelik beskou veral die vismotte vir predikante!!

o        Krugerwildtuinkampe

o        Kalaharitoer ('n Routoer vir gesinne)

o        Gereelde gesamentlike bring en braaie word in die bos hier naby gehou sowel as bekostigbare daguitstappies in die buitelug. By van hierdie geleenthede word fotos en videos vertoon.

o        Uitstappies vir bejaardes vorm ook deel hiervan na bv die Laeveldse Botaniese tuin en Loskop Natuurreservaat onder andere.

o        Die Serengeti, Ngorongoro krater, Okavango moerasse die Richtersveld ens. is ook deel van die beplanning.

 

3.       Ander projekte waarmee ons besig is: 

ƒ   Skrywes oor bv betekenis van bome, voëls, insekte ens. in die natuur. Indringervoëls soos die Indiese spreeu ens. in die plaaslike koerantjie.

ƒ   Preke en praatjies oor omgewingsbewaring.

ƒ   Plakate op die kerkterrein tov omgewing.

ƒ   Ons het ook ‘n bepaalde kode waarvolgens ons optree

ƒ   Lisensieplakker vir bewusmaking van die omgewing

ƒ   Kampe met kinders meestal in Natuurreservate. Neem meeste vd tyd ‘n natuurbewaarder of veldwagter saam en gee geleentheid om met die kinders te praat.

ƒ   Uitheemse bome op kerkterrein vervang met inheemse bome.

ƒ   Herwinning van papier, plastiekhouers, blikkies, ou motorolie en ou batterye waarvoor ons ‘n geldjie ontvang.

 

4.       Projekte in beplanning: 

ƒ   Werk vir water

ƒ   Omgewingsvriendelike en bio-afbreekbare gifstowwe

ƒ   Inligtingsbord op kerkterrein

ƒ   In die volgende fase wil ons meer klem lê op kennis opdoen van die omgewing soos voëls, insekte, bodem, reptiele, die heelal, grasse, bome ens.

ƒ   Deurlopend word van die geleentheid gebruik gemaak om die evangelie uit te dra waar ons kom. Dikwels in afgeleë swart woongebiede. Noodverlig­ting word ook in ‘n volgende fase beplan.