Earthkeeping in Madwaleni

Annemie Bosch reflects on her growing insight that earthkeeping forms part of Christian witness. She writes about her and David Bosch’s ministry in Madwaleni in the former Transkei, the events around SACLA in 1979 and subsequent developments: // Annemie Bosch vertel hoe sy langsamerhand gegroei het in die insig dat omgewingsorg deel vorm van Christene se getuienis. Sy skryf van haar en David Bosch se bediening in Madwaleni in die destydse Transkei, van die gebeure rondom SACLA in 1979 en ontwikkelinge sedertdien:

Ek kan onthou hoe vreemd dit vir my so laat as 1979 tydens SACLA I was,  toe 'n groep studente gevra het hoekom 'earthkeeping' nie 'n item op die agenda was nie. Ons was ten spyte van, en mét, ons piëtistiese sendingagtergrond só besig om vir reg en geregtigheid en teen die Apartheid-bestel te werk en te veg, dat ons nooit eens gedínk het dat die bewaring en versorging van die aarde ook deel van ons Christelike opdrag was nie. Dit was buitendien 'n geweldige sprong vir die piëtiste van daardie tyd (en die oorwegende meerderheid van die Christene wat aan SACLA 1 deelgeneem het, het in hierdie kategorie geval) om vir 'n regverdige politieke stelsel te werk en om nie uitsluitlik 'siele na Jesus toe te lei' nie. Meestal is geredeneer, ja, daar moet geregtigheid wees, maar 'n mens kan dit alleenlik doen deur die enkeling na die Here te lei, dan sal alles "vanself" regkom. Dieselfde, meen ek, het gegeld rondom ons verantwoordelikheid teenoor die wêreld waarop ons leef.

Ja, ons het, sommer net deur ons voorbeeld, die skepping gerespekteer en versorg, baie bome geplant, grondverspoeling teëgewerk en sulke klein goedjies gedoen. Toe ons op Madwaleni aangekom het, het ons kraalmis by die plaaslike mense gekoop en in ons groentetuin ingewerk en die ou manne van die stam het, pyp in die mond, met hul voorarms die omheining platgedruk terwyl hulle met verwondering gekyk het hoe die jong koolkoppe so groot word dat 'n mens skaars jou arms daaromheen kon slaan en hoe die jong beet wat ons uithaal so groot is soos 'n kind se kop. (Later, toe die hospitale gebou is het ons ook die groot groente-tuine vir hospitaalgebruik aangelê, met kontoerwalle teen die helling en watervore vir natlei). David het vir hulle gesê dis die mis wat hy by húlle gekoop het, wat die verskil maak. Ons was 9 jaar daar en toe ons 12 jaar ná ons daar weg is, weer gaan kuier, het elke umzi 'n geil groentetuin gehad..... maar 'earth-keeping' ???

Ons was bekommerd omdat die stukke natuurlike inheemse bos/woud wat destyds nog aan die suidekant van elke koppie te vinde was, stelselmatig uitgekap word vir vuurmaakhout - maar kon nie 'n alternatief aanbied nie, en die mense het beslis hout nodig gehad om vuur te maak en om hul hutte te bou. Die plaaslike mense het hul fonteine goed beskerm omdat dit die enigste water tot hul beskikking was.... maar die riviere het almal bilharzia 'oorgedra' omdat daar nie so iets soos toilette was nie.

Van stelselmatige en bewuste bewaring van ons kosbare aarde, was daar bitter min indien enige spoor. Ons het geredeneer dat ons primêre taak, die mense is - hulle moes die evangelie hoor en 'gered' word. Dat hul óók gehelp moes word om bo hul armoede uit te styg, het wel aan ons geknaag, maar dit was so 'n 'agterna-gedagtetjie'. Die versorging van hul liggame (hospitale en mediese werk) en van hul verstand (skole) is beskou as 'hulpmiddels' om hulle 'siele' te bereik. Daar het enkele stemme, ook ons eie, uit ons midde opgeklink - mense wat die 'ketterse' siening gehad het dat al daardie dinge integraal deel van ons sendingopdrag was... Dat die versorging van die aarde op 'n groot en fyn beplande wyse óók deel van die geheel was, het ons egter nog nie begryp nie.... dat die mens en élke deel van die skepping onlosmaaklik aan mekaar verbonde is, en déél van ons sendingopdrag, het nog nie 'n plek gevind in ons denkpatrone nie.

En nou dat gelowiges wél besef dat dit deel van ons opdrag en verantwoordelikheid vorm, nou voel ons dikwels, net soos ons oor Apartheid gevoel het – en vandag nog oor armoede en HIV VIGS en wêreldwye korrupsie en geweld voel – so klein en magteloos teenoor hierdie oorweldigend enorme taak, dat ons tóg maar net op die oppervlak rondkrabbel en nie werklik weet hóe om te  werk te gaan om getrou te wees aan hierdie roeping nie. Daarom is ek dankbaar dat daar mense is wat meer kennis op hierdie gebied het, en stragegië kan gebruik om 'n ware verskil te kan maak – mense by wie ons kan leer hoe om tree vir tree die onmeetlike aan te pak - wetende dat 'n reis van 'n duisend myl met een tree begin.