Contact Us

Membership

Internet Links

PATRONS

  • Prof Denise Ackermann
  • Bishop Mvume Dandala
  • Prof Inus Daneel
  • Father Richard Menatsi
  • Rev Dr Molefe Tsele
  • GOVERNING BOARD

  • Vacant (Chairperson)
  • Bishop Geoff Davies (Deputy-Chairperson)
  • Prof Ernst Conradie (Executive Secretary)
  • Rev Andrew Warmback (Treasurer)
  • and regional reporters
  • Sondag 8 Junie 2003

    Pinkstersondag en Omgewingsondag

    Romeine 8:18-27

     

    1. Teks & Konteks

    Inleiding

    Romeine 8:18-30 is een van die rykste gedeeltes in die Nuwe Testament. Daar is talle temas wat elkeen met goeie reg benut kan word in die erediens. Hieronder tel lyding (18v), skepping (19-22), kindskap van God (1, 14-17, 19, 23, 28-30), hoop (veral 20, 24-25), die Gees (23, 26-27), gebed (26-27) en voorsienigheid (28). Binne die konteks van Pinkster­son­dag en Omgewingsondag (wat vanjaar saamval) sal ons hier fokus op die temas van die Gees en die skep­ping. Terwyl die Leesrooster net Romeine 8:22-27 as teksgedeelte aandui, sal ons hier ook na vers 18-21 kyk.

    Daar is al ongelooflik baie oor Romeine 8 geskyf. Trouens, die groot predikers en teoloë in die geskiedenis het feitlik almal by geleentheid oor hierdie teksgedeelte nagedink, elkeen met ’n eie invalshoek (sien Kässmann 1994). Die teks is nie net onuitputlik nie, maar ook meer gekompliseerd as wat dit op die oog af mag lyk. Die doel van die eksegetiese opmerkings hieronder is nie om ’n vers vir vers verklaring te gee nie. Daarvoor kan die kommentare van Barth, Cranfield, Jonker, Lekkerkerker, Ridderbos en andere benut word. Dit gaan eerder hier daaroor om, heel selektief, enkele sake rondom die verhouding tussen Gees en skepping aan die orde te stel.

    "Die skepping sien uit met reikhalsende verlange ..." (vers 19)

    Die frase "sien uit met gespanne verwagting" (NAV) kan vertaal word as "afwag met ’n uitgestrekte nek", "om vorentoe te kyk" of "met gretige afwagting". Die woord "ktisis" (skepping) dui hier veral op die materiële werklikheid (Ridderbos). Die Ou Testament is vol voorbeelde van berge, heuwels, grond, riviere, bome en diere wat ’n eie stem het. As die berge kan jubel en die bome in die veld kan hande klap (Jes 55:12), kan die hele skepping sekerlik ook sug. Dit is juis belangrik om ruimte daarvoor te laat dat die nie-menslike natuur ’n eie stem kan hê wat náás en téénoor mense se stemme gehoor moet word. Hieroor later meer.

    "... dat die kinders van God bekend gemaak sal word" (vers 19)

    Waarna sien die hele skepping uit met gretige afwagting? Die antwoord op hierdie vraag is werklik verstommend. Dit gaan nie bloot oor dramatiese ewolusionêre ontwikkelinge in die skepping nie. Dit is iets wat slegs deur geloofsoë ingesien kan word (Cranfield). Die skepping wag daarvoor dat dit duidelik sal word wie God se kinders is. Vanuit ’n bepaalde perspektief is hierdie antwoord weliswaar nie juis verbasend nie. Dit is as ’n mens reken dat die hele geskiedenis van die skepping net om die mens draai, dat alles in die skepping net daar is ter wille van die mens, dat die drama van die mens se sonde en verlossing die begin en einde van die geskiedenis is. So ’n standpunt is egter uitermate antroposentries. ’n Mens kan tereg vra:: "(Is) the twenty billion years of God's creative love simply ... a stage on which the drama of human salvation is worked out?" (Sean McDonagh). En: "The salvation of man is not the chief end of God; certainly it is not the exclu­sive end of God. Concern for human salvation must be placed in a wider context than that of Ptolemaic religion. The preoccupation with self has to be altered; the proper orientation is not primarily toward self but toward God, and to the ordering of life in relation to what can be discerned of the divine ordering." (James Gustafson).

    ’n Mens sou daarom met goeie reg kon vra: Indien die skepping aan die verydeling onderworpe is, indien dit juis die mens is wat die skepping hieraan onderwerp het (sien hieronder) en indien die slawerny van die skepping (vs 21) veral blyk uit die wyse waarop die mens die aarde vir eie gewin uitbuit (wat tot ekologiese vernietiging lei), hoekom sou die hoop van die skepping nou juis op die mens gerig wees? In die skerp formulering van Thomas Berry: "We are the termination, not the fulfillment of the earth process. If there were a parliament of creatures, its first decision might well be to vote humans out of the community, too deadly a presence to tolerate any further." Dit is ook opvallend dat die skepping nog gebuk gaan onder slawerny terwyl die kinders van God nie meer slawe is nie. Meer nog, hoekom sou die hoop van die skepping geleë wees op die seuns van God, en selfs nog meer spesifiek op die bekendmaking van die kinders van God? In eietydse terme gestel: Kan die hoop van die skepping wat kreun onder die juk van verslawing regtig op die kerk gerig wees? Kan die kerk regtig so ’n groot verskil maak?

    Tog is dit presies waarop Paulus klem lê. Die tema van die kinders van God kom deurgaans in Romeine 8 voor. Reeds in vers 1 word daar gesê dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus is nie. Die tema van die kinders van God word veral in vers 14-17 beklemtoon. Die kinders van God het die Gees ontvang, is nie meer slawe nie, leef nie meer in vrees nie en is erfgename saam met Christus. Dieselfde tema word in vers 19, 21 en 23 herhaal waar die kinders van God en die hele skepping verlang daarna dat dit bekend sal word wie God se kinders is. Ook in vers 27-30 gaan dit oor die verskil wat dit maak om ’n kind van God te wees. Die skepping wag met ’n uitgestrekte nek saam met ons, of meer presies, vir ons – dat dit bekend sal word wie God se kinders is (Barth). Ridderbos vat die strekking van hierdie frase so saam: "Deze interpretatie berust ... op het in het Bijbelse scheppingsgeloof gefundeerde weten dat die wereld niet voor de dood maar voor het leven is geschapen en dat dit leven zal triomferen in de toekomstige heerlikheid der kinderen Gods (1959:185).

    In die riglyne vir die prediking en liturgie hieronder sal die vraag of die kerk werklik ’n verskil kan maak aan die verslawing van die hele skepping as uitgangspunt gebruik word.

    "... aan verydeling onderworpe" (vers 20); "verslawing aan die verganklikheid" (vers 21)

    Die skepping is volgens vers 20 aan die "verydeling" onderworpe. Die Griekse woord mataiotes wat hier gebruik word, kan vertaal word as "leegheid", "nietigheid", "futiliteit", "sinloosheid". Cranfield bespreek talle interpretasies en kies dan vir die mees voor-die-hand-liggende betekenis, naamlik "denoting the ineffectiveness of that which does not attain its goal (cf. the adverb maten), and to understand Paul's meaning to be that the sub-human creation has been subjected to the frustration of not being able properly to fulfil the purpose of its existence … (1975:413)" Die skepping is verder onderworpe aan die "slawerny van die verganklikheid" (douleias tes phthoras) (vers 21). Dit dui op sterflikheid, verganklikheid, op dit wat tot niet gaan, tot ’n einde kom, dit wat van binne uit verrot, afgetakel word, vernietig word. Dit is duidelik dat hierdie begrippe (saam met Rom 5:12v en vers 18-22 in die geheel) teen die agtergrond van Genesis 1-6 verstaan moet word (sien veral Byrne 2000). Die gevolge van die mens se val het al wyer uitgekring totdat die hele aarde uiteindelik in God se oë “korrup” is (6:11). Die skepping is na die mens se val, net nie meer dieselfde nie. Paulus kom in die res van die Romeinebrief tot die gevolgtrekking dat die hele wêreld as gevolg darvan voor God strafwaardig is (3:19) en dat die loon van die sonde die dood is (6:23).

    Dit is duidelik dat die mens se sonde ingrypende gevolge vir die hele skepping inhou. In ons dag blyk dit nêrens beter nie as uit omvangryjke ekologiese vernietiging wat die voortbestaan van lewe op die aarde bedreig. Vir ’n eietydse interpretasie van die teks kan hierop gewys word. Dit is egter te betwyfel of Paulus in Romeine 8 enigsins die ekologiese gevolge van sonde in gedagte gehad het. Daar is ’n groot historiese gaping tussen Paulus en die wydverspreide eietydse gebruik van Romeine 8:18v om ’n besorgdheid oor die aarde se ekosisteme tot uitdrukking te bring.

    Dit is nie sonder meer duidelik hoe die teksgedeelte wel verstaan moet word nie. Trouens, die teks is ’n kroongetuie in een van die groot teologiese vrae van ons dag. Die vraag is of alle pyn in die wêreld noodwendig die gevolg van sonde is. Is alles op aarde nie in elk geval sterflik nie, of dit nou die gevolg van sonde is al dan nie? Is pyn, lyding en sterflikheid nie dalk iets wat ’n integrale deel van die skepping vorm nie? Vir eeue is Paulus se teologie deur die kerk so verstaan dat dood (en ook sterflikheid) pas in die skepping ingetree het na die mens se sondeval. As gevolg van die sondeval is alle mense sterflik. Maar die ewige lewe is die genadegawe wat God vir ons gee in Jesus Christus (Rom 6:23b).

    Hierdie opvatting het egter in ons dag onder groot druk gekom. Die grootste skok het gekom van die kant van die paleontologie. Navorsers het beendere opgegrawe van diere wat op aarde gelewe het lank voordat daar mense was. Die navorsing het ook daarop gedui dat hierdie diere aan sekere siektes gesterf het en daarom groot lyding sou ervaar het. Die vraag was nou of hierdie lyding en die dood van diere ook die gevolg van die mens se sonde is? Dit is immers chronologies net nie moontlik nie. Meer nog: indien diere dalk wel sterflik geskape is, geld dit nie ook maar van die mens nie? Die mens behoort immers ook tot die klas van soogdiere. Navorsing oor die struktuur van selle in mikro-biologie dui voorts daarop dat alle selle 'n beperkte lewensduur het. Selle moet daarom gereeld binne die lewensduur van 'n organisme vervang word. Dit geld ook van die mens. Meer nog: selle is noodwendig so "geprogrameer" dat hulle moet doodgaan en dit is juis belangrik vir die lewensvatbaarheid van die organisme. Anders gestel: sterflikheid vorm 'n integrale deel van die biologiese sub-struktuur van alle lewe. Dit kan nie bloot die gevolg van die sonde wees nie. Dood moes van die begin af deel gewees het van die skepping.

    In die lig hiervan het talle eietydse teoloë voorgestel dat daar 'n onderskeid tussen "dood" en "sterflikheid" gemaak moet word. Die mens is inderdaad van nature sterflik. Ons word egter nie net gekonfronteer met ons eie sterflikheid nie. Ons word ook gekonfronteer met die gevolge van ons sonde. Ons kan nie van God se oordeel daaroor ontsnap nie. God se oordeel is die dood. Die "dood" word hier in 'n gelade sin van die woord verstaan. Die dood bring nie net 'n einde nie, maar ook skeiding tussen God en mens. Die dood staan in die teken van God se oordeel. En hierdie oordeel is dat die mens voor God diep skuldig staan. Die genadige oordeel van God is egter ook dat daar vryspraak van sonde in Jesus Christus is (Rom 6:23, 8:1).

    Hiermee is hierdie belangrike teologiese vraagstuk natuurlik nog lank nie opgelos nie. Dit kan ook nie hier in meer besonderhede bespreek word nie. As 'n mens vanuit hierdie vraagstuk na Romeine 8:19-21 kyk, val dit nietemin op dat die konnotasies van die begrippe wat hier gebruik word, op beide sterflikheid en die gevolge van die sonde dui. Verydeling, verganklikheid, vernietiging, verderf word hier ineenverweef. Na die sondeval val die lotgevalle van die skepping saam met dié van die mens (Byrne 2000:197). Paulus het immers in ’n ander tyd met ander vraagstukke gelewe en gaan gewoon nie op hierdie vraagstuk in nie. Hy sien wel raak dat die hele skepping sug en kreun - om watter rede ook al.

    Juis omdat die skepping om verskillende redes sug en kreun, laat die teks vir ons in ons konteks ruimte om te let op ekologiese vernietiging as een eietydse rede waarom die skepping "aan slawerny onderworpe" is.. Al het Paulus nie ekologiese vernietiging in gedagte gehad nie, lê dit tog in die verlengde van die teks.

    "... nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het (OAV)" (vers 20)

    Die woord onderworpe (hupotasso) kom twee keer in vers 20 voor. Die skepping is aan die verydeling onderworpe (sien die bespreking hierbo). Hierdie onderwerping het nie gewillig plaasgevind nie (hier het die skepping weer 'n eie stem téénoor die van die mens), maar vanweë die een wat dit onderwerp het. Wie het die skepping hieraan onderwerp? Talle eksegete (bv. Barth, Cranfield, Jonker) meen dat dit dui op God se vloek op die straf op die mens se sonde waaraan die hele skepping onderworpe is. Volgens Gen 3:17 is die hele aarde deur Adam se sonde vervloek. Die NAV lui hiervolgens "omdat God dit daaraan onderwerp het". Dit is egter ook moontlik dat dit die mens is wat die skepping aan die verydeling onderwerp het (Byrne 2000). Hierdie interpretasie laat dus ruimte vir spanning tussen die mens en die res van die skepping en gee weer eens aan die skepping 'n eie stem. In so 'n geval sinspeel die teks eerder op Gen 1:28 waar die bra hardhandige woord "onderwerp" (kabash) juis gebruik word. Die mens se opdrag is om die aarde te onderwerp en daaroor te heers. Ons kan nie hier op die problematiese geskiedenis van die uitleg van hierdie vers ingaan nie. Die punt is nietemin duidelik: Omdat die mens se uitvoering van hierdie opdrag radikaal skeefgeloop het (vanweë die mens se val), is die skepping aan vernietiging onderwerp. Met ekologiese vernietiging het dit in ons dag katastrofale gevolge vir die hele aarde meegebring.

    "die hele skepping sug tot nou toe in die pyne van verwagting" (vers 22)

    Daar kan vir die doeleindes hier volstaan word met 'n verwysing na die uitstekende bespreking van Dirkie Smit (1992) wat op die drieledige sugmotief in Rom 8:18-30 fokus. Smit wys op die verband van hierdie sugtinge met die klagpsalms. Die sug waarvan daar hier sprake is, hang aan die een kant saam met pyn, swaarkry, lyding en onderdrukking (vgl Rom 8:35), maar aan die ander kant ook op 'n intense verlange na 'n nuwe bedeling wat deur die gawe van die Gees ingelui is. Hy wys daarop dat gelowiges mag en selfs moet sug – teenoor die Griekse Godsbeeld wat 'n emosielose, afsydige soort spiritualiteit meegebring het. Die sug van gelowiges is eintlik ook 'n protes teen lyding en swaarkry, 'n verlange na wat kom, 'n wens dat dinge radikaal anders sal word, 'n hoop met volharding op dit wat ons nog nie sien nie (8:24-25).

    Die "pyne van verwagting" waarvan daar in die NAV sprake is, dui onmiskenbaar op kraampyne. Dit dui op geweldige intense pyn, maar dit is pyn wat ook die belofte van nuwe lewe inhou. Margot Kässmann (1994:48-49) verduidelik die ekologiese betekenis van hierdie vroulike metafoor so: " It is like this with creation. It screams. There is blood, sweat and tears from what God has created. As far as we can see it, there is no future on this planet. But our hope is for new life, that this process may be a fertile one. ... But there are dead children born. Children are born with genetic defects from radiation in the Pacific. Children are born with asthma in the big cities, children are born with drug addiction, children are born who have no chance to live. The destruction of creation may go too far."

    "Ons wat die Gees as eerste gawe van God ontvang het" (vers 23, NAV)

    Volgens die eerstelingsoffer (aparche) behoort die eerste vrugte van die oes aan die Here. Dit dien as erkenning dat die hele oes eintlik aan die Here behoort. Dit dien as 'n belydenis van versekering dat die hele oes ingesamel sal word. In die eerstelinge is die hele oes as 't ware reeds inbegrepe. Dit is opvallend dat dit hier nie die mens is wat aan God 'n offer bring nie. Die kinders van God ontvang hierdie gawe uit genade van God af. Dit is 'n teken en waarborg van die volle heerlikheid wat op hande is. Die hele skepping (19-22), sowel as die kinders van God (23-25) sug en verlang na die dag wanneer alles nuut gemaak sal word. Dit gaan dus hier om die tipiese eskatologiese spanning tussen die alreeds en die nog-nie (sien Coetzee 1984).

    "... naamlik die verlossing van die liggaam" (vers 23)

    Wat beteken die aanneming tot kinders (vers 23)? In die Griekse teks word dit verder verduidelik met die frase "die verlossing van die liggaam" wat in die NAV vertaal word met ’n selfstandige sin: "Hy sal ons van die verganklikhid bevry." In Afrikaans kan die genitief konstruksie (... van ...) wat hier gebruik word op twee maniere verstaan word. Dit kan daarop dui dat ons van ons liggaamlike, aardse bestaan verlos word. Andersins kan dit beteken dat die liggaam self verlos word. Daar is 'n hardnekkige tendens in die Christelike tradisie om die evangelie in terme van die eerste moontlikheid te verstaan. Hierdie benadering berus op die bekende teenstellings tussen die materiële en die geestelike, liggaam en siel, die aardse en die hemelse, natuur en kultuur, vlees en gees, die stoflike en die ideële, ensovoorts. In elke geval word die tweede term voorgehou as meer verhewe, meer "Christelik" as die eerste een. In die geskiedenis het dit al te dikwels tot 'n wêreldvreemde soort spiritualiteit gelei waarin dit wat liggaamlik, aards en materieël is, geminag word. Hiervolgens word Romeine 8:18-23 tipies op 'n mensgesentreerde wyse verstaan. Dit wat oor die skepping gesê word, is hoogstens 'n metafoor vir die verlossing van die mens. Meer nog, ons word eintlik verlos van die wat aards en liggaamlik is.

    Hoewel Paulus soortgelyke terme gebruik, byvoorbeeld die onderskeid tussen vlees en gees (Rom 8:1-8) is dit duidelik dat "vlees" vir Paulus nie liggaamlikheid beteken nie, maar verstaan moet word in terme van sonde. Dit gaan oor die verskil tussen 'n liggaam wat deur sonde beheer word en 'n liggaam waarin God self teenwoordig is.  Ons word nie van ons sterflike liggame bevry nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons sterflike liggame weer lewend gemaak word (vers 11) (Ridderbos). Soos wat die hele skepping wag op die geboorte van nuwe lewe, so wag ons liggame ook daarop om bevry te word van die verwoesting waaraan dit onderworpe is. Ook elders in Paulus se briewe is dit meer as duidelik dat Paulus, teenoor die geesdrywers, die belangrikheid van die liggaam en opstanding van die liggaam beklemtoon.

    "Die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie" (vers 26, NAV)

    Ons het reeds gesien dat die sugte van die skepping en van gelowiges twee kante het. Dit behels ’n uitdrukking van pyn en swaarkry maar ook die verlange na ’n nuwe bedeling waar die kinders van God, saam met die hele skepping, vry sal wees van vernietigende mag van sonde. Dit lei tot ’n mate van onsekerheid. Hoe moet ’n mens met die lyding en swaarkry klaarkom? Waarvoor kan ons regtig hoop? Waarvoor kan ons bid? Dat die lyding moet ophou? Vir krag om te volhard te midde van die lyding? Vir ’n einde aan verslawing, verganklikheid, vernietiging en verydeling? In hierdie onsekerheid staan die Gees ons as gelowiges by. Die Gees pleit vir ons met sugtinge wat ons nie volledig begryp nie, maar wat ons in God se hande kan oorlaat. Die sugtinge van die Gees hoef nie uitgespreek te word nie omdat God die bedoeling daarvan in elk geval verstaan.

    Die verband tussen die sugte van gelowiges en die versugtinge van die Gees word verduidelik in die res van die perikoop (vers 27-30). Die Gees pleit vir die gelowiges, dat alles vir hulle ten goede sal laat meewerk, dat God se wil in hulle lewens sal geskied. Die verband tussen die skepping se sugte en die Gees se versugtinge is egter nie so duidelik nie en word dikwels gewoon geïgnoreer. In die teks word daar nie weer na die skepping verwys nie. ’n Mens sou daarom kon vra of die Gees dan nie ook oor die sugtende skepping begaan is nie?

    Hier kom ons weer voor een van die groot teologiese vraagstukke van ons dag te staan. Daar bestaan geen twyfel daaroor dat skepping en herskepping die werk van die Gees is nie (vgl hieroor die resente studies oor die Heilige Gees van Jonker, Moltmann, Müller-Fahrenholz, Van de Beek, Welker en andere). Die Gees van God sweef van die begin af oor die waters en is telkens daar om alles nuut te maak. Die belydenis van Nicea sê daarom dat skepping óók die werk van die Gees is: die Gees is die "Een wat lewe gee." Die bekende gebed van die vroeë Christelike kerk lui: "Kom, Skepper Gees!" Of in die woorde van die 1991 vergadering van die Wêreldraad van Kerke in Canberra: "Come Holy Spirit, renew your whole creaton."

    Die vraag is egter ook hoe die herskeppingswerk van die Gees plaasvind. In die Westerse tradisie het die klem altyd nog daarop geval dat die Gees die Gees van Christus is (vgl die filioque debat) en dat die Gees daarom werk deur Jesus Christus, deur die verkondiging van die boodskap van verlossing in Christus, deur die Bybel en deur prediking, deur die liggaam van Christus (die kerk), die sakramente en die dienswerk van die kerk in die wêreld. Daar is egter talle eietydse teologiese strominge wat ook wil ruimte laat vir die werk van die Gees buite Jesus Christus om. In Pinksterteologie word die vrye gawes van die Gees beklemtoon. Die Gees "waai waar hy wil" en kan nie beperk word binne die konteks van die institusionele kerk nie. In Afrika teologie word daar dikwels geargumenteer dat die Gees van God in Afrika heilsaam teenwoordig was lank voordat die boodskap van Jesus Christus hier gekom het. In bevrydingsteologie word soms gesê dat die bevrydende politieke werk van die Gees nie altyd net deur die kerk plaasvind nie. Die Gees werk in die wêreld en gebruik nie net die kerk as instrument daarvoor nie. In feministiese teologie word die vroulike rol van die Gees (as die een wat lewe gee) beklemtoon teenoor die manlike Christus-figuur. En in ekologiese teologie word die kosmiese herskeppingswerk van die Gees, wat binne én buite die kerk plaasvind, dikwels beklemtoon. ’n Mens sou kon vra of die sugtinge van die Gees wat nie eers deur gelowiges begryp word nie, sinspeel op hierdie wyere teenwoordigheid van die Gees wat ook begaan is oor die sugte van die hele skepping?

    Romeine 8:18-30 dui egter in ’n ander rigting. Dit blyk uit die dominante rol wat die tema van die kinders van God in die hele hoofstuk speel. Die skepping wag gretiglik op die openbaarmaking van die kinders van God. En die Heilige Gees pleit veral vir die kinders van God. Is die Gees dan nie oor die sugtende skepping begaan nie? Inderdaad, maar teenoor die verslawing van die skepping deur die mens se val, val heil vir die hele skepping hier saam met heil vir die gelowiges. In ons dag is dit weliswaar geensins vanselfsprekend nie. Sal die bekendmaking van wie God se kinders is enigsins ’n verskil maak aan die ekologiese verknegting van die aarde as deel van God se skepping? Anders gestel: Die vraag is of die kerk werklik ’n verskil kan maak aan die verslawing van die skepping. Vir die prediking oor Romeine 8 op Omgewingsondag en Pinkstersondag (tesaam) kan hierdie vraag as uitgangspunt gebruik word.

     

    2. Liturgies & Homileties

    Votum

    Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daarop woon, alles, ja alles, behoort aan die Here.

    Lofsang

    ’n Wye verskeidenheid liedere kan gebruik wod om die lof van die Skepper te verkondig.

    Skriflesing: Rom 8:18-26

    Oordenking

    1. Ons word vandag gekonfronteer met die gevolge van ons sonde vir die aarde waarop ons woon.

    Daar bestaan geen twyfel dat die mense se sonde ernstige gevolge vir die hele aarde inhou nie. Dink maar net aan die lugbesoedeling in die Kaap en in Mpumalanga. Dink aan die gronderosie in die Transkei. Dink aan al die chemiese gemors wat ons op vuilgoedhope en in ons strate weggooi. Dink aan die olie op ons strande. Dink aan die maer straathonde en aan hele spesies diere en plante wat uitgewis word. Dink aan ontbossing oral in Afrika en aan die gat in die osoonlaag. Dink aan die weerpatrone wat verander het omdat ons met die aarde se atmosfeer gepeuter het. Dink aan al die mense wat onder dit alles swaarkry, sug en sterf. Dit alles is die gevolge van sonde. Die hele aarde kreun saam met ons onder al hierdie ekologiese ellende. Inderdaad:

    Die hele skepping is vasgevang in slawerny.

    Die skepping sug, dit kreun en steun.

    Die skepping is aan nietigheid en vernietiging onderworpe.

    Die skepping is onderwerp aan die mens se sonde.

    Dit kan geïllustreer word met behulp van allerlei gegewens, statistieke en sosiale analises rondom ekologiese vernietiging, verkieslik met verwysing na die plaaslike konteks. Vergelyk ook materiaal uit Conradie & Field (2000).

    Hierdie deel van die erediens kan op verskillende maniere tot uitdrukking gebring word in die vorm van woord, poësie, musiek, fotos of skuifies, kinderkuns. ’n Bietjie beplanning vooraf kan besondere trefkrag verleen.

    2. In die midde van die sugtende skepping, sug die kinders van God ook.

    Die sugte van die kinders van God is volgens Paulus die gevolg van die lyding wat gelowiges nou nog moet verduur (vers 18). Die kinders van God word veroordeel (8:1). Hulle word aangekla (8:33). Hulle ervaar benoudheid, vervolging, naaktheid, gevaar en swaard (8:35).

    In hierdie konteks verlang gelowiges na die dag wanneer dit bekend sal word wie God se kinders is.

    Maar waarna verlang ons as gelowiges vandag? Die antwoord op hierdie vraag sal noodwendig kontekstueel wees. Ervaar ons wel iets van die swaarkry waarvan Paulus praat? Of nie eintlik nie? Verlang ons dalk daarna om juis van hierdie aardse, liggaamlike bestaan verlos te word? Of verlang ons dalk, soos baie ander mense, na meer en meer materiële welvaart? Dra ons dalk op hierdie manier by tot die verslawing van die skepping, aan die verydeling van die skepping as gevolg van die manier waarop ons die aarde onderwerp het en dit oorheers en beheers het (Gen 1:28)?

    Op hiedie wyse kan daar by ons (anders as by Paulus) maklik ’n spanning ontstaan tussen wat gelowiges hoop en dit waarop die skepping hoop (Let op dat hierdie waarneming hier as 'n sleutel gebruik om die teks binne ’n moderne ekologiese konteks te ontsluit). Waarop hoop die skepping? Die antwoord wat Rom 8 op hierdie vraag bied, is heel verbasend: Die skepping se diepste hoop is dat dit bekend sal word wie God se kinders is. Hierby sou ’n mens tereg kon vra: Kan die kerk regtig ’n verskil maak aan die verslawing van die skepping? Is die skepping se hoop op die kindes van God nie dalk ’n tevergeefse hoop nie?

    3. Die Gees tree vir ons en vir die skepping in met versugtinge wat ons nog nie eers begryp nie.

    Die hoop van die skepping op die kinders van God sou inderdaad tevergeefs gewees het as die kinders van God nie self ook verlang na ’n nuwe bedeling nie. Die kinders van God hoop volgens Paulus self ook op God se genadige oordeel – op die dag dat die finaal bekend sal wees wie God se kinders is.

    Te midde van die sugte van die skepping en van gelowiges gee God aan sy kinders die eerstelings­gawe van die Gees. En as die kinders van God se hoop soms skeefgetrek word, tree die Gees by God in vir die hele skepping.

    Die Gees staan vir ons by in ons swaarkry. Die Gees weet dat ons nie aldag regtig weet waarvoor ons moet bid nie, waarna ons mag verlang nie, waarna die hele skepping uiteindelik op pad is nie. Ons kan nog nie die versugtinge van die Gees mooi begryp nie. Ons weet nie aldag wat in ons eie belang is nie. Ons weet ook nie aldag wat in die skepping se belang is nie. En dit lei tot die ekologiese venietiging wat ons rondom ons sien. Maar die Gees tree vir ons en vir die hele skepping in. Deur die versugtinge van die Gees kan alles uiteindelik ten goede meewerk. Die Gees kan sorg dat dit waarop gelowiges hoop en dit waarop die skepping hoop met mekaar in pas kom.

    Daarom kan ons op vandag op Omgewingsondag bid: Kom Skepper Gees. Inderdaad, die hele skepping wag met kraampyne op die geboorte van nuwe lewe. Dit is die werk van die Gees wat lewe gee. Daarom kan ons ook saam met kerke regoor die wêreld bid: "Come Holy Spirit, renew your whole creaton."

    Diens van die gebede

    Daar bestaan talle aangrypende gebede vir die aarde wat met die werk van die Heilige Gees verbind word. Die volgende paar voorbeelde is hier voldoende:

    The Holy Spirit is life-giving life, Mover of the universe and root of all created being, he purifies the universe from impurity and anoints the wounds, so he is shining life, worthy of praise, raising up the universe and reviving it again - Hildegard of Bingen.

    Come, Holy Spirit - renew your whole creation:

    Nature and grace, soul and body, economy and ecology, matter hard and soft.

    For you do renew the face of the whole earth,

    of the whole cosmos over which you moved at the dawn of creation,

    As it was in the beginning, is now and shall be, world without end. (Krister Stendahl)

     

    O God, life-giving Spirit, Spirit of healing and comfort, of integrity and truth, we believe and trust in you.

    Warm-winged Spirit, brooding over creation, rushing Wind and Pentecostal fire, we commit ourselves to work with you and renew our world. Amen. (World Council of Churches)

     

    Literatuur

    Kommentare: Achtemeier (Interpretation), Barth, Cranfield (ICC), Jonker (SBG), Lekkerkerker (PNT), Ridderbos (CNT).

    Byrne, B 2000. Creation groaning: An Earth Bible reading of Romans 8.18-22. In Habel, NC (ed): Readings from the perspective of Earth, 193-203. Sheffield: Sheffield Academic Press.

    Coetzee, JC 1984. Die Heilige Gees in die prediking van Paulus. In: Du Toit, AB (ed): Handleiding by die Nuwe Testament. Band V, 234-255. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

    Conradie, EM & Field, DN 2000. A rainbow over the land. A South African guide on the church and environmental justice. Cape Town: Western Cape Provincial Council of Churches.

    Kässman, M 1994. Covevant, praise and justice in creation: Five Bible studies. In: Hallman, DG (ed) 1994. Ecotheology. Voices from South and North, 28-51. Geneva: World Council of Churches.

    Louw, DJ 1983. Pinkstersondag: Romeine 8:26. In: Burger, CW, Müller, BA & Smit, DJ (eds): Riglyne vir Paas-, Hemelvaarts- en Pinksterprediking. Wood teen die Lig I/3, 156-164. Kaapstad: Lux Verbi.

    Smit, DJ 1992. Sesde Lydensondag: Romeine 8:18-30. In: Burger, CW, Müller, BA & Smit, DJ (eds): Verdere riglyne vir lydensprediking. Wood teen die Lig I/8, 231-242. Kaapstad: Lux Verbi.

    Vos, CJA. Hoop in lyding. In: Vos, CJA & Müller, J (eds): God in ons lyding, 74-85.